14 Jun 2010
Ry die markhobbels plat
By Finweek
Wel, as dit die “nuwe normaal” is – die frase wat gebruik word om te beskryf hoe beleggers hulle ná die finansiële krisis by kleiner opbrengste moet aanpas – lyk dit nie te sleg nie, te oordeel na die vertoning van effektetrusts.
Dis nie alles goed nie, maar beslis ook nie swak nie, en die meeste kategorieë effektetrusts lewer opbrengskoerse wat baie hoër as die plaaslike inflasiekoers is.
Kom ons begin by die standaard- binnelandse algemene aandelefondse, die tydbeproefde effektetrusts wat opsom hoe die plaaslike mark vaar – en ook miljoene SA effektetrustbeleggers.
In die algemeen of, meer akkuraat, volgens die gemiddelde van die 77 effektetrusts in die kategorie oor die jaar tot einde Desember 2009, was die opbrengs 26.1%.
Dis swakker as die 32.1% van die hulpbrongedrewe FTSE/JSE-indeks van alle aandele oor dieselfde tydperk, maar dit is nie te versmaai is nie.
Ek sal dankie sê en die 26.1% ewe tevrede in my sak steek.
Verskeie van die binnelandse algemene aandelefondse het egter aansienlik beter as die indeks van alle aandele oor een jaar gevaar, gelei deur die PSG Alphen-groeifonds met ’n opbrengs van 43.5%.
Die portefeuljebestuurder, Shaun le Roux, is uiteraard in sy noppies met dié prestasie, maar hy is versigtig oor die pad vorentoe.
Met verwysing na die “goedkoop geld”, baie daarvan uit die buiteland, wat die aandeelprysmomentum op die JSE dryf, sê hy: “In Maart en April 2009 was dit baie makliker. Die huidige waardasievlakke maak dit moeilik om vas te stel wat ingereken word.”
Soos altyd beklemtoon ons prestasie op langer termyn, en dis waar Absa se uitsoekaandele-effektetrust na vore tree.
Hy is in die eerste posisie oor drie jaar met ’n geannualiseerde opbrengs van 10.9% en is eerste oor vyf jaar met 22.7%, wat albei beduidend beter as die indeks van alle aandele se vertoning is.
Hoe kry hy so baie alfa?
“Gewone ouderwetse aandeelkeuring van onder na bo en fundamentele navorsing,” sê die fondsbestuurder en beleggingshoof van Absa Batebestuur, Errol Shear.
Die binnelandse algemene aandelefondse bly die maatstaf vir die toenemend ingewikkelde effektetrustbedryf, en dié sektor sorg goed vir beleggers.
Die groot vraag is egter: Hoe kies jy ’n fonds?
’n Maklike antwoord is daar nie, maar die beste raad is seker om te hou by die gevestigde batebestuurders met ’n lang prestasiegeskiedenis.
Ons sê altyd moenie die toppresteerders kies nie maar kyk eerder na konsekwentheid.
Name wat hier opduik, is die Allan Gray-aandelefonds, tweede oor vyf jaar met ’n geannualiseerde opbrengs van 20.8%, gevolg deur die Prudential-aandelefonds en Kagiso-aandele-alfafonds.
Laasgenoemde is ’n goeie voorbeeld van konsekwentheid, in die tweede plek oor drie jaar en derde oor een jaar.
Die kleiner boetiekbestuurders is egter besig om vir hulle ’n plek in die effektetrustbedryf oop te trap, en dis seker die duidelikste in die kategorie aanpasbare binnelandse batetoewysing.
Dit is die gebalanseerde fondse aan wie versigtiger beleggers hul geld toevertrou – hulle is onrustig oor te veel blootstelling aan aandele en wil ’n professionele fondsbestuurder gebruik om die so belangrike besluite oor batetoewysing namens hulle te neem.
In dié kategorie is die leier oor vyf jaar die waardeneigingfonds van Rezco, ’n klein bestuurder van Port Elizabeth wat waarskynlik misgekyk word deur baie kleinbeleggers in effektetrusts.
Sy geannualiseerde opbrengs oor vyf jaar is 19.6%, net minder as die 20.3% van die indeks van alle aandele oor dieselfde tydperk.
Dié topprestasie is toe te skryf aan die baie aanpasbare proses van die fonds.
Die bestuurders is nie bang om die grootste deel van die portefeulje na kontant te verskuif as die mark lastig lyk nie.
Beleggers trek voordeel uit dié dapper batetoewysingstrategie.
Aan die voorpunt oor drie jaar is die BlueAlpha All Seasons-fonds; en sy geannualiseerde opbrengs van 13.8% is twee keer meer as dié van die indeks van alle aandele.
Oor een jaar is dit die 36ONE- aanpasbare geleentheidsfonds met 32.8%, wat effens beter as die indeks van alle aandele vaar – ’n goeie vertoning as mens dink hoe goed die mark as geheel, en veral hulpbronaandele, in 2009 gevaar het.
Daar is ook ’n 36ONE-fonds wat hoog geplaas is oor een jaar in die kategorie binnelandse geteikende, absolute en reële opbrengs, naamlik sy teikenopbrengsfonds, wat 33.9% behaal het.
Die 36ONE-fondse se vertoning is soms wisselvallig omdat die bestuurders dinge effens anders doen.
Byvoorbeeld, die aandele wat hulle as die toptien in portefeuljes hou, is dikwels baie anders as dié van ander effektetrusts.
“Die fonds volg ’n benadering van fundamentele ontleding en aandelekeuring,” sê die bestuurder, Cy Jacobs.
“Ons soek aandele uit wat die mark na ons mening onderwaardeer.”
Gebalanseerde fondse het die afgelope tyd gewild geraak onder beleggers wat onrustig is oor die mark maar tog blootstelling aan aandele wil hê.
’n Gebalanseerde fonds verskuif die verantwoordelikheid na die fondsbestuurder om die blootstelling aan aandele en ander bateklasse reg te kry.
Jeremy Gardiner, ’n direkteur van Investec Asset Management, sê die invloei na aandelefondse (die meeste van die geld het na gebalanseerde fondse gegaan) in die vierde kwartaal van 2009 toon twee tendense.
“Beleggers bly bekommerd dat die markherstel wat in Maart 2009 begin het, oordrewe was relatief tot die ekonomiese gesondheid, hier en oorsee. En beleggers besef dis moeilik om die mark te voorspel en verkies dat batebestuurders die besluite oor batetoewysing namens hulle neem.”
Gardiner voorspel ’n woelige jaar en hy verwag dat gebalanseerde fondse gewild sal bly.
Selfs institusionele beleggers begin die meriete van gebalanseerde fondse oorweeg.
Anne Cabot-Alletzhauser, beleggingshoof van Advantage Asset Managers, sê die keuring en kombinering van aanvullende gebalanseerde fondse dek bateklastendense.
Die absolute-opbrengsfondse lewer in baie gevalle nie ’n reële opbrengs nie.
Die gemiddelde opbrengs vir dié kategorie oor een jaar is 12.9%, oor drie jaar ’n geannualiseerde 7.9% en oor vyf jaar 10.5%.
Die opbrengste van individuele absolute-opbrengsfondse verskil egter baie – party klop die mark en inflasie met gemak, en ander vaar baie swakker.
Maar dié fondse het almal verskillende mandate en norme, wat meebring dat hul prestasie sal verskil.
Dit is hoekom absolute-opbrengsfondse nie in die tabel volgens prestasie gerangskik word nie.
Dié skrywer is krities oor absolute-opbrengsfondse omdat hy reken die bykomende koste regverdig nie die prestasie en daalbeskerming nie wat ’n gewone, goedkoper algemene aandelefonds ook bied.
Maar Prieur du Plessis, voorsitter van die Plexus-groep, sê dis omdat ek – en ’n baie ander beleggers – absolute-opbrengsfondse nie verstaan nie.
“Die feit is dat die beleggingsmandate, prestasiedoelwitte en beleggingstrategieë van fondse in dié sektor baie verskil. As voornemende beleggers nie verstaan presies wat die fondsbestuurders probeer bereik en hoe hulle hul oogmerk probeer verwesenlik nie, kan beleggers maklik teleurgestel word,” sê Du Plessis.
Hy verwys na ’n studie van opbrengste van dié fondse oor die jaar tot 31 Januarie 2010 wat toon dat die opbrengste wissel van 41% tot ’n powere 3%.
Selfs oor drie jaar is daar ’n groot afwyking, van 20.1% tot -1.8%, dus ’n verskil van byna 22%.
“Die belangrikste oorweging by die keuse van ’n geteikende opbrengsfonds is sy risiko-aangepaste opbrengs,” sê hy.
“’n Fonds wat ’n reële opbrengs (dit is ná aanpassings vir inflasie) van 3% per jaar behaal met wisselvalligheid of ’n standaard-afwyking van 10%, is ’n beter risiko-aangepaste presteerder as ’n fonds wat ’n reële opbrengs van 4% per jaar behaal maar met wisselvalligheid van 15%.”
Du Plessis se raad aan voornemende beleggers is om eers hul beleggingsoogmerke te bepaal en dan die risiko-aangepaste prestasie van fondse met ooreenstemmende oogmerke te vergelyk.
Die toppresterende aandelefondskategorie is binnelandse aandele – hulpbronne en basiese nywerhede.
Dit is ’n weerspieëling van die magtige invloed wat hulpbronaandele op die JSE het, en dié fondse is toppresteerders oor alle tydperke in die tabel.
Vir vyf en drie jaar is dit Old Mutual se mynbou-en-hulpbronnefonds met opbrengste van onderskeidelik 29.4% en 14.9%.
Meer onlangs het die RAB-hulpbronnefonds sy weg na die bopunt gebaan en hy is in die eerste posisie oor een jaar met ’n opbrengs van 53.6%.
Binnelandse vaste-eiendomsfondse is ook konsekwente langtermyn-presteerders.
Oor vyf jaar is dit Investec se eiendomsaandelefonds met 21.8%, wat beter as dié van die indeks van alle aandele is.
Die medebestuurder, Vuyani Bekwa, sê die fonds se strategie is om steeds maatskappye en genoteerde-eiendomsfondse te koop waar die uitkeringsgroei beter as die sektorgemiddelde is.
“Die groei van die beter fondse moet lei tot die voortgesette beter prestasie van effektetrusts en eiendom as ’n bateklas,” sê hy.
Boaan die tabel oor drie jaar is Stanlib se eiendomsinkomstefonds met 11.3%, wat ook beter as die indeks van alle aandele se vertoning is.
Die fonds is ook oor een jaar in die eerste plek met ’n opbrengs van 16.5%.
In die lig van die moeilike tyd wat die aandelemark deurgemaak het, is die vertoning van effektetrusts lofwaardig.
Dit wys hoeveel waarde ’n aktiewe bestuurder wat betref die opbrengs kan skep.