News

Jump to older articles:

Search for articles:

14 Aug 2009

‘Kyk na rand, hulpbronne voordat jou oë dwaal na buiteland’

By Maarten Mittner, Sake 24

 

Dit is nou ’n goeie tyd om diversifikasie na buitelandse beleggings te oorweeg – maar dalk nie om die redes wat batebestuurders gereeld voorhou nie.

Batebestuurders wys in die laaste tyd veral op “groen lote” wat in die globale ekonomie na vore kom. Dit dui op ’n deurlopende verbetering in grondliggende ekonomiese aanwysers wat aandele bevoordeel.

Maar Suid-Afrikaners het in die verlede gereeld hul vingers met buitelandse beleggings verbrand. Daarom kan nie verwag word dat almal nou met groot geesdrif na die Amerikaanse of Europese markte sal kyk nie.

Buitelandse effektetrusts was tot onlangs van die swakste presteerders.

In 1998 en ná 2001 kon Suid-Afrikaanse beleggers vir ’n wyle groot winste in die buiteland maak uit die swakker rand en stygende hulpbronpryse.

Tussen 2003 en 2007 was die JSE sekerlik die plek om te wees. Die buiteland was ook steeds ’n swak belegging nadat Lehman Brothers in September 2008 ineengestort het. Sedertdien het die Dow Jones skerp herstel wat die buiteland aantrekliker gemaak het, maar die onsekerheid bly groot.

Dit is waar stygende hulpbronpryse en ’n swakker rand in die prentjie kom. Dié twee veranderlikes was nog altyd ’n gunstige kombinasie.

As die rand sterk is en hulpbronpryse markeer die pas, daal die aandeelpryse van goud-, platinum- en mynhuisaandele gewoonlik. Maar as sake omswaai met ’n swakker rand, kan hulle goed presteer.

Mnr. Trevor Garvin, hoof van multibestuursprodukte van BoE Private Clients, sê logika bepaal dat dit die beste tyd is om oorsee te belê as die rand sterk is – “soos nou, terwyl ontleders meen die kans dat die rand betekenisvol sal versterk, al hoe skraler word”.

Dit is nie te sê daar word verwag dat die rand soos in die verlede kwaai sal verswak nie. Maar as die rand van sy huidige vlak van sowat R8 teenoor die dollar tot net R9 verswak, kan hulpbronaandele skerp verbeter.

Mnr. John Stopford, medehoof van vasterentebeleggings van Investec Batebestuur, sê inflasievrese in die VSA is goeie nuus vir hulpbronne.

“Hulpbronaandele is ’n uitstekende verskansing teen inflasie.”

Amerikaanse beleggers het in die verlede gereeld hul vrees vir stygende inflasie in die nadraai van sterk ekonomiese groei besweer deur in goudaandele en in fisieke goud te belê. Die besluit van die Federale Reserweraad om geld teen ’n ongekende pas te druk uit vrees vir deflasie, kan Amerikaners in die toekoms met ’n reuse-inflasiekopseer opsaal.

Hy meen hulpbronne is teen dié agtergrond selfs ’n beter belegging as aandele.

Maar die beleggingspan by Allan Gray se internasionale Orbis-fondse meen globale aandelemarkte is nie heeltemal te versmaai nie.

Hoewel hulle nie verwag dat die wêreldmarkte gou die ligte sal uitslaan nie, meen hulle aandele sal beter presteer as kontant en effekte, veral weens die verwagte styging in inflasie.

Me. Monika Kraushaar, portefeuljebestuurder van Advantage Batebestuur, sê die stand van die wêreldmarkte moenie noodwendig die rede vir groter buitelandse beleggings wees nie.

Werkloosheid kan nog internasionaal vererger terwyl die Amerikaanse verbruiker nou meer spaar as 15 jaar gelede.

“Die inkorting van verbruikersbesteding kan beduidende ekonomiese groei temper.”

Sy meen eerder diversifikasie na ander ontluikende markte is die antwoord.

Die verwagting is dat ontluikende markte vanjaar vir die eerste keer meer as 50% tot die wêreldwye bruto binnelandse produk (BBP) sal bydra.

En onthou, lande soos China en Indië bly groot invoerders van hulpbronne.

Legal & Compliance | All content © 1994 - 2007 Advantage Asset Managers